2005 Jaareind O(og)kkasie

Die formaat van ons 2005 Jaareind O(og)kasie was soortgelyk aan verlede jaar met die verskil dat die datum so gekies was om saam te val met ´n okkultasie van die Maan met die Sewe Susters. Lede van die Oud-Matie 4x4 Klub was spesiaal uitgenooi sowel as die publiek, laasgenoemde deur middel van ´n beriggie in die Paarl Pos en Helderberg.

Alhoewel wolke gewoontlik ´n probleem is, was die rook van een van die talle brande hierdie somer, ´n groter bedreiging. Gelukkig het die wind laatmiddag gedraai sodat dit die rook weggewaai het.

Ten spyte daarvan dat dit ´n weeksaand was, het sowat 25-30 mense opgedaag en is 6 teleskope opgestel.

Alhoewel daar heelwat nuwe gesigte was, het baie van ons gereelde, staatmaker lede ook die aand kom meemaak. Daar is sommer lekker oor en weer gesels en gekuier.

Dana en Rudie Loots het gesorg dat daar genoeg kole was en Serena het die tafel met slaaie keurig in die Voortrekkersaaltjie ingerig. So tussen die sterrekyk deur, is daar gebraai, geëet en gesellig verkeer en later die aand was koffie met ´n soetdingetjie voorsien.

Ongelukkig was daar nie veel van die okkultasie sigbaar omdat die Maan te helder was. Ons het ons nogtans nie laat afskrik nie en het van die geleentheid gebruik gemaak om ander hemel-voorwerpe te bekyk, teleskope te vergelyk, ens. Dit was die eerste OOG-geleentheid waarna Louis Fourie sy nuwe 14-duim Meade LX200 GPS pronkstuk gebring het. Dit is dus vanselfsprekend dat Louis se teleskoop groot belangstelling uitgelok het!

Nog 'n eerste was my nuwe groen laser. Louis het dit gebruik om die sterre en konstellasies uit te wys met ´n toer deur die naghemel. Met onlangse navorsing het ek en Auke afgekom op die mooiste Boesman-sterrestories en ek het so ´n paar hiervan met die mense gedeel.

Ten spyte van die feit dat ons eintlik niks gesien het van die gebeurtenis waar rondom die aand eintlik gereël is nie, is dit steeds bestempel as een van die lekkerste OOG-aande ooit. Dit het selfs ‘n wins van agt nuwe OOG-lede opgelewer wat ons ledetal oor die 100 geneem het. Een van hierdie nuwelinge, Elsabeth Muller, het die aand baie treffend opgesom in ´n bedankingsbriefie:   Ons wil net baie dankie sê vir ´n heerlike aand. Die gemaklike informele trant en die stories en fabels het verseker dat ons as "ryker" mense daar weg is. Die tegnologie was ´n "eye opener" om nie eers te praat van die kinders se verwondering vir die "groen liggie" wat tot aan die sterre raak nie.

deur Willie Koorts


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou