Daar skiet ´n Ster!
Banksgate, 19-21 Maart 2005

Hierdie was eerder ´n OOG-geïnspireerde werkswinkel as ´n direkte OOG poging. Ons plaas dit nogtans hier op die OOG webwerf vir die interessantheid.

Ferdie Lochner (links) is al lid van OOG vanaf sy stigting. Behalwe vir sy belangstelling in sterrekunde is Ferdie ook ´n ywerige veldryer en lid van die Oud Matie 4x4 Klub. Ek (Willie) ken toevallig vir Jurgens Schoeman, die stigter en voorsitter van die Oud Matie 4x4 Klub. Alhoewel ek en Jurgens al menigmaal gedreig het om ´n 4x4 uitstappie met sterrekyk te kombineer, het ons nog net nooit sover gekom om dit te reël nie.

Aan die begin van 2005 kom Ferdie met dieselfde voorstel. Ek spreek my bereidwilligheid uit en stel voor ons por bietjie vir Jurgens ook aan, wat entosiasties reageer. Na ´n klompie e-posse groei hierdie saadjie wat Ferdie geplant het en neem die plan meer en meer vorm aan. Binnekort word ´n datum en plek vasgestel.

Die naweek van 19-21 Maart 2005 was ´n langnaweek. Die Maan was ongelukkig bietjie helder om die donker toestande van die Karoo ten volle te kan benut, maar was die beste wat ons kon doen met die beskikbare naweke. Daar word op Bansgate besluit, die plaas van Danie en Annete Blom (sien foto bo), 70 km van Sutherland wat, behalwe vir ´n oop hemel, kampgeriewe en asemrowende 4x4 roetes bied.

Na ons aankoms en kamp opslaan Saterdag, is ons op ´n kort 4x4 roete met ´n paar lekker diep slote en mooi uitsig oor asemrowende afgronde.

 
 

Ons keer teen laatmiddag terug, wat ´n bekoring van sy eie inhou en ´n heel ander dimensie aan die Karoo gee.

Ongelukkig het ek nie fotos van die sterrekunde kursus, teleskoop-kyk en sterre-stories-gesels wat ons saans tot laatnag gedoen het nie. Enige bydraes hier sal baie waardeer word.

Sondag was grootliks in beslag geneem deur ´n 4x4 rit tot reg bo op die berg en langs ´n ompad terug, af teen die hange met asemrowende uitsigte oor die uitgestrekte Karoo vlaktes.

 
 
 
 
 
Na nog ´n nag van sterre-kyk-en-gesels tot ounag toe, besoek ons Maandagoggend (´n vakansiedag) die Sutherland Sterrewag, oppad huistoe. Die geweldige kontras tussen die 74-duim (1.9m) teleskoop wat uit 1938 dateer in vergelyking met die ultramoderne SALT met sy spieëldeursnee van 11 meter is geweldig.

Willie Koorts


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou