2004 Jaareind O(og)kkasie

Ons OOG-groepie het 2004 op ´n hoë noot afgesluit deur ´n lekker gesellige byeenkoms by die Wamakersvallei Voortrekkerterrein op Wellington. Alhoewel OOG-lede voorkeur gekry het, was die publiek ook uitgenooi deur ´n beriggie in die plaaslike koerant, die Paarl Pos te plaas. Die belangsteling was goed en is uiteindelik deur sowat 35 mense bygewoon.


Ons moes behoorlik bontstaan om almal se vrae te probeer beantwoord.

Die aand was in die vorm van ´n bring-en-braai en ´n paar OOG-lede het hulle teleskope saamgebring en opgestel vir almal om deur te kyk. Ek het besluit om op satelliet-jag te konsentreer en het my CoSaTrak (Computerised Satellite Tracking) stelsel, toegerus met ´n gemodifiseerde sekeriteitskamera, opgestel. Die kamera se beeld is op twee monitors vertoon sodat almal dit kon volg. Ons was gelukkig en kon ´n hele verskeidenhied interessante satelliete sien, insluitende die Hubble Ruimte-teleskoop, flikkerende satelliete en ´n NOSS trio (drie satelliete wat saam, naby mekaar in formasie vlieg). Die hoogtepunt was egter ´n "Iridium Fakkel" wat presies op die voorspelde oomblik helder geflits het!


Almal se aandag is op die posisie in die lug waar ´n helder Iridium Flits gaan verskyn.

Twee kort praatjies was aangebied: Auke Slotegraaf, die redakteur van die handboek van die Sterrekundige Vereeninging van Suid Afrika (ASSA), het ons ´n bietjie agter die skerms geneem van die produksie van Sky Guide 2005. Hierdie uiters handige handboekie was ook te koop teen ´n spesiale prys. Ek het ´n klompie gedagtes gewissel oor die moontlike oorsprong van die Betlehem-Ster wat groot byval gevind het. My praatjie is deur Dana Loots afgesluit met ´n gepaste gebed wat mooi by die Kers-stemming van die geleentheid aangesluit het.


Auke Slotegraaf (regs) teken Rudie Loots se 2005 Sky Guide.
Rudie was die wenner van ´n opstelkopetisie wat deur ASSA uitgeskryf is.

Aanvanklik was ons uitsig effens belemmer deur redelike dik wolke maar later het dit pragtig oopgetrek. Toe dit lekker donker was, het Louis Fourie ons op ´n "toer" deur die naghemel geneem deur die uitwys van konstallasies en helder sterre, keurig ingekleur met interessanthede en mitologie.

Serena het skynbaar moeiteloos daarin geslaag om die saai Voortrekkersaal om te tower in ´n feestelike atmosfeer, kompleet met ´n blommerangskikking, kerse, ens. Die saal het later ´n al hoe geselliger kuierplek geraak toe lekker warm koffie en plaatkoek bedien is.

OOG se koffers was mooi aangevul deur die verkope van Sky Guides en donasies en ons ledetal het weereens lekker gegroei.

Willie Koorts


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou