Kamieskroon Sterre-aand

(Alle fotos deur Adri Louw)

Hierdie was ook 'n OOG-geïnspireerde, eerder as 'n OOG-georganiseerde sterre-aand. Een van ons veraf-geleë OOG-lede, Ria Beukes van Kamieskroon het met die voorstel gekom om 'n sterre-aand daar by hulle op die plaas te hou. Ria en haar man, Koos, het al tevore sulke byeenkomste met groot suskses daar gereël, meestal in die vorm van skrywersaande en toe selfs vir Daniel Hugo van RSG daar gehad. Haar organiseringsvermoë vir so 'n groot groep het my verstom - sy ken skynbaar nie stres nie!

Die formaat was soortgelyk aan die sterre-aande by Simonsvlei en Eikendal wat 'n ete, sterrekunde lesing, 'n naghemel "toer" en sterrekyk deur verkykers en teleskope ingesluit het. 'n Aangename verskil was 'n musiek voor-program deur plaaslike kunstenaars wat 'n heerlike stemming vroegaand verleen het.

Die kos het onder andere 'n eg Namakwalandse afvalpotjie ingesluit waaraan ek my verlustig het! Soos wat die mense hom hier braai, hoef geen Namakwalandse skaap terug te staan vir ´n Karoolam nie.

OOG-lede Louis Fourie en Adri Louw het my bygestaan met die aanbiedings en teleskope-beman. Een besoeker wat nie die aand kon bywoon nie, het sy nuwe, volle automatiese GPS teleskoop saamgestuur en aan ons toevertrou om te gebruik vir die aand. Louis het nie gras onder sy voete laat groei nie en het binne ´n ommesientjie hierdie teleskoop baasgeraak en die hele wêreld rondgeswaai om mense daardeur rond te wys.

Die geleentheid was gereël vir Saterdag-aand, 15 Januarie 2005. Die datum was so gekies sodat die mense vroegaand na die 5-dag-oue Maan kon kyk. Later die aand, nadat die Maan gesak het, kon ons die donker Namakwalandse naghemel in al sy glorie geniet. Saturnus was ook ideaal geplaas vir besigtiging. Vir diegene wat nie 110 000 jaar kon wag tot sy terugkeer nie, kon vir oulaas Komeet Machholz sien voordat dit oor die noordelike horison vir ons in Suid Afrika verdwyn het.

Vir my persoonlik was dit 'n groot plesier om in te val by 'n goed georganiseerde naweek en 'n belewenis om die Namakwalandse gasvryheid eerstehands te ervaar. Ek en my familie het met 'n swaar hart weer Sondag vanaf die Kamiesberg teruggekeer na ons effens meer gejaagde lewens in die Boland.

Willie Koorts


Fotos van die omgewing


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou