OOG Sterre-aand, Eikendal, 29 November 2003

Na sy geboorte uit die Simonsvlei sterre-aand het ons OOG groepie na 8 maande aangegroei tot sowat 30 lede. Tydens die nat wintermaande het Serena die belangstelling lekker lewendig gehou met ´n gereelde nuusbriefie, saamgestel uit brokkies wat ons raakloop op die Internet, asook lede-bydraes. Met my betrokkenheid by SALT kon ek ook gereeld fotos en nuusbrokkies bydra soos mylpale behaal is met die bou van SALT.

Ons besluit toe om die malperd op te saal en ons eie volwaardige sterre-aand te reël. Serena identifiseer ´n ideale venue naamlik die Eikendal Wynplaas, tussen Stellenbosch en Somerset-Wes en die datum word uiteindelik vasgestel op Saterdagaand, 29 November 2003.

Nadat ons ons OOG-lede voorkeur gegee het om te bespreek, stem Hennie Maas goedgunstelik in om dit op Sterre en Planete te adverteer. Met die krag van die radio is al 70 plekke binne ´n week geneem. Dit alles het gebeur terwyl Serena-hulle nog besig was om hulle lewe weer na normaal te probeer terugkry na ´n inbraak by hulle huis en ek baie besig was by die werk waar ons in die finale stadium was om ´n tweede kamera vir SALT aanmekaar te sit.

Ons was sommer erg bekommerd toe dit vir amper ´n week lank aanmekaar reën in die aanloop tot die naweek. Gelukkig trek dit toe oop en uiteindelik kon ons nie vir beter weer gevra het nie. Dit was ´n perfekte aand, heeltemal oopgetrek, windstil en selfs die temperatuur was ideaal sodat ons uiteindelik ons praatjies buite, onder die sterre kon hou.

Die mense het net voor sononder begin opdaag waar hulle ontvang was met ´n glasie Eikendal vonkelwyn en vrugtesappe na ´n warm dag. Die tuin van die restaurant het ´n lieflike westelike uitsig oor ´n dam, ideaal vir ´n "sun downer". Op die oewer van hierdie dam het ons ´n paar teleskope en verkykers opgestel om die Son, Sekelmaan, Venus en Mercurius te bekyk soos hulle sak en dit donker word. Die mense kon tussendeur solank ´n ligte voorgereggie geniet op die bankies onder die bome rondom die dam terwyl die eerste sterre verskyn.

Nadat die "teleskoop bemanning" aan die mense voorgestel is, het Adri Louw weer afgeskop met ´n kort teleskoop praatjie waarna ons iets te ete geniet het saam met Eikendal Kelder se produkte, behendig bedien deur een van ons stigterslede, Marius Beukman. Daarna het ek ´n Power Point aanbieding oor SALT gedoen wat hoofsaaklik uit fotos bestaan het. Een van ons nuwe OOG-lede, Neels Borstlap het vervolgens die mense op ´n toer deur die heelal geneem ook d.m.v. ´n Power Point aanbieding. Daarna het ons deur die teleskope en verkykers, wat intussen in ´n oop kol langs die kelder opgestel is, gaan kyk tot laataand.

Soos op Simonsvlei, het ek weer my 9-duim en Francois le Roux sy 8-duim teleskoop daar gehad. Neels het sy 6-duim Newtonian en een van die besoekers het ´n soortgelyke teleskoop saamgebring en opgestel. Adri en Paul Dogon het twee teleskope daar gehad. Paul het basies "eerste lig" gehad met ´n 8-duim wat hy kort tevore ingevoer het om te evalueer vir bemarking plaaslik - hy het ongelukkig sagteware probleme ondervind met die GOTO-montering, maar daar was genoeg teleskope om die mense mee besig te hou. Selfs die "seeing" was ongelooflik goed sodat Adri met ´n klein 5-duim Newtonian, heel gemaklik die Cassini Skeiding in Saturnus se ringe kon split!

Daar was hier en daar ´n paar haakplekkies, maar die positiewe het gelukkig die negatiewe oorskadu sodat almal ´n aangename aandjie onder die sterre kon geniet en ons het beslis ´n klompie waardevolle lesse geleer uit die ondervinding. Ons OOG ledetal het ook ´n goeie hupstootjie gekry.

Willie Koorts


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou