Simonsvlei, RSG Sterre en Planete aand

(´n Verkorte weergawe van die onderstaande artikel het in die Paarl Pos van 14 Maart 2003 verskyn.)

Op Saterdagaand, 8 Maart 2003 was dit meer as net Simonsvlei se reuse bottle wat hemelwaarts gereik het toe ´n RSG Sterre en Planete sterre-aand daar gehou was. Met al die spreiligte op die terrein afgeskakel en ´n klompie teleskope buite opgestel, is die kelder in ´n wafferse sterrewag omskep vir die sowat 100 gaste om in perfekte weerstoestande ´n verskeidenheid van uitgesoekte hemelliggame te kon geniet.


Met ´n verskeidenhied teleskope gereed vir aksie, was Simonsvlei wynkelder tydelik omskep in ´n sterrewag.
Brent Russel se tuisgemaakte 16-duim in die agtergrond was die grootste teleskoop daar die aand.
(Alle fotos deur Auke Slotegraaf)

Die idee van ´n Bolandse Sterre-aand het alreeds die vorige jaar [2002] posgevat toe ´n plaaslike amateur sterrekundige, Willie Koorts, tydens deelname aan ´n uitsending van Sterre en Planete deur ´n inbeller gevra is hoekom ons hier aan die Kaap altyd so afgeskeep word. Ten einde hierdie uitdaging aan te spreek, het sy soektog na ´n geskikte venue spoedig na Simonsvlei gelei wat uiteindelik al die elemente vir ´n suksesvolle sterre-aand kon bied. Met die hulp van ´n klompie entoesiastiese amateur sterrekundiges wat hulle teleskope kom beskikbaar stel het vir die mense om deur te kyk, was die aand volledig afgerond.


Terwyl die laaste strale van die Son die Bolandse berge aan die brand steek, staan die span amateur sterrekundiges gereed om hulle teleskope te beman - v.l.n.r. is Brent Russel, Janus Brink en Paul Dogon wat gesels met Louis Fourie en Roean van Ellewee.

Daar was gewegdige belangstelling nadat Hennie Maas, die aanbieder van die program wat Donderdag-aande 7:30 [tans 8:30] op RSG uitgesaai word, die Simonsvlei sterre-aand op Sterre en Planete aangekondig het. Die besprekings was vinnig vol asook ´n waglys vir moontlike kansellasies het gou uit sy nate gebars.

Hennie Maas was self teenwoordig om die verrigtinge te lei, vergesel van mede-aanbieder Louis Barendse. By aankoms was die gaste ontvang met ´n glasie Simonsvlei wyn as "sundowner". Terwyl die laaste strale van die son agter die horison verdwyn het, is groepies belangstellendes op ´n keldertoer begelei terwyl ander solank die sekelmaan deur teleskope van naderby kon bekyk.


Die beeld van ´n kamera gemonteer op Willie se teleskoop word op ´n monitor vertoon
wat hom in staat stel om interessante aspekte van die Maan maklik te verduidelik.

´n Ligte ete, afgerond met Simonsvlei produkte, is voorafgegaan deur ´n teleskoopdemonstrasie deur Adri Louw, verbonde aan ´n winkel in Tygervallei wat teleskope invoer. Adri en kollega Paul Dogon, het ook ´n verskeidenheid teleskope beskikbaar gestel tydens die sterrekyk sessie om hulle verskille eerstehands te demonstreer.


Francois le Roux (heel links) beman sy 8-duim Newtonian teleskoop.

As opbou tot die hoogtepunt van die aand, het Louis Barendse ´n skyfievertoning gelewer. Na sy begeleide toer deur die heelal wat gestrek het vanaf die geboorte tot die vurige dood van sterre, sterrestelsels wat bots en vele ander astronomiese feite, was die tafel gedek om van hierdie hemelliggame eerstehands deur die teleskope te gaan besigtig.


Louis Barendse (regs) gesels met ´n belangstellende besoeker.

Die "spacekaart" (kunstig voorberei deur Auke Slotegraaf) het gestrek van die twee prominentste planete sigbaar die aand, Jupiter en Saturnus tot sterrebondels en sterrehope, gloeiende- en donker gasnewels tot galaksies van etlike miljoene ligjare ver. Teleskope het gewissel van tuisgemaak tot die nuuste rekenaarbeheerde model. Dit ten spyt, kon mense tot hul verbasing agterkom wat se hemelse skatte lê on-ontgin met ´n beskeie verkyker onder leiding van ´n gids wat die naghemel ken. Daar is tot laatnag toe nog gekyk aan hierdie spektrum van hemelliggame voordat alles opgepak is en Simonsvlei weer tot sy ou gedaante kon terugkeer.

Na die sukses van die aand het Hennie Maas onderneem om so ´n Kaapse Draai sommer ´n jaarlikse instelling te maak.


Tot na middernag moes die amateurs, soos Paul Dogon hier (regs) steeds 'n
vloedgolf vrae beantwoord oor teleskope, hemeliggame, ensovoorts.

Dit was tydens hierdie byeenkoms waaruit OOG ontstaan het na ´n voorstel van Serena van die vloer af nadat sy my vooraf geraadpleeg met ´n telefoonoproep die vorige aand. Ons het ´n lys beskikbaar gestel waarop belangstellendes in so ´n informele sterrekunde groepie, hulle kontakbesonderhede moes invul. Sowat ´n dosyn mense het gereageer, ons eerste OOG-lede.


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou