OOG se stigtingsverhaal

As agtergrond tot die stigting van OOG, moet ons teruggaan na die trein wat RSG Sterre en Planete gereël het na Messina om die algehele sonsverduistering van 4 Desember 2002 te besigtig. Oorspronklik sou Faan le Roux, Hennie Maas se tweede mede-aanbieder van Sterre en Planete (saam met Louis Barendse destyds), die toergids op die trein wees. Ek sou as hulpgids optree. Na Faan se skielike dood, word ek hoofgids aangesien Louis ander verpligtings gehad het. Serena Ingamells was ook op die trein, waar ons mekaar ontmoet het.

Serena vertel agterna hoedat sy weer met nuwe entoesiasme aangevuur was na haar terugkeer huistoe as gevolg van die direkte en indirekte blootstelling aan sterrekunde op die trein. Sy het gou weer haar teleskoop afgestof nadat sy ´n tyd tevore bietjie belangstelling verloor het weens onder andere "sterrekundige isolasie".

Kort daarna (op 8 Maart 2003) reël ons die Simonsvlei sterre-aand waarvoor Serena ook bespreek. Die aand voor die byeenkoms bel sy my en opper die gedagte om by Simonsvlei die belangstelling te toets vir die stigting van ´n moontlike belange-groepie. Sy vra of ek bereid sal wees om as "herder" op te tree. Sy spreek haar bereidwilligheid uit om sekretaresse en sameroeper te wees. Ons besluit om ´n lys beskikbaar te stel waarop belangstellendes hulle kontakbesonderhede kan invul nadat ons dit aangekondig het.

Ek bespreek dit met Hennie en tydens my spreekbeurt kort voordat die mense verdaag om deur die teleskope te gaan kyk, stel ons Serena se voorstel bekend en nooi mense met meer as ´n verbygaande belangstelling om hul name op die lys in te vul.

Ongelukkig het ons nie besef dat die Simonsvlei personeel die lokaal waar ons die lys neergesit het, kort daarna sou sluit nie. Dit het tot gevolg gehad dat mense wat dalk nog hul name wou opskryf, voor ´n toe deur te staan gekom het. Nogtans het meer as ´n dosyn mense gereageer, ons stigterslede.

Willie Koorts

 

© 2009 OOG. Alle regte voorbehou