Gedeeltelike sonsverduistering - 22 September 2006

Niemand kan die aanloop tot en die verloop van die gebeure rondom die gedeeltelike sonsverduistering van 22 September 2006 beter beskryf as Carol Botha nie.....

´n E-pos aan Willie oor ´n heel ander saak het gely na ´n op-die-nippertjie-OOG-byeenkoms. Ek het toevallig genoem dat ek na die Cultivariafees in die Paarl gaan en sommer vandaar met my sonbrilletjie van toentertyd die verduistering sou dophou waarop ek toe dié antwoord kry:

Nou praat jy!! Ek en Serena het nogal gewonder of OOG nie dalk iets moet doen vir die verduistering, soos om by ´n winkelsentrum (soos Somerset Mall) te gaan opstel nie. Omdat sy weg is en ek Saterdag ook Noorde toe ry, het ons dit toe maar gelos. Ek het egter nooit gedink aan die Paarl se fees nie - dit sou nou die aangewese plek gewees het dit vanaf te doen. Dalk seker nou te laat?

Die ? gee my toe gedagtes.............en ek het dadelik my kontakte begin skakel. Dit was Woensdag! Willie het e-posse gerig aan die betrokke persone, maar toe Donderdag 1nm aanbreek en hulle niks van hulle laat hoor nie het ek besluit om Paarl Toerisme te skakel. Hulle het sommer binne ´n OOGwink gesê ons is welkom om voor hul kantore stelling in te neem. So oor die foon moes ek bepaal of ons mooi sig vandaar sou hê. Ek kon nie wag vir Vrydagoggend om self te gaan kyk of alles sou uitwerk nie. Hybrè van Paarl Toerisme was fantasties. Sy het ´n e-pos aan al hul lede asook aan die skole en Paarl Pos gestuur. Selfs terwyl ons daar was het sy mense geskakel om te kom kyk.


Die vriendelike personeel van Paarl Toerisme saam met ons drie OOGlede.

Na die verrigting wat ek by die Cultivariafees bygewoon het, het ek solank my teleskoop gaan opstel om mense te begin lok. My senuwees het so ´n klein bietjie gepla. Sê nou net Willie kom nie met die mylar nie! Een geknakte sonbrilletjie van toentertyd sou my beslis nie red nie. Ek het aan ´n ontvlugtingsplan begin dink. My verligting was so groot toe Willie bel om te sê hy´s in die Paarl en ek moet uitkyk vir ´n wit Honda dat ek vergeet het om te vra hoe ´n Honda lyk. (Willie jy moes gesê het die wit kar met die splinternuwe bande!)


Carol en Anton gereed vir aksie voor die Toerisme kantoor, ideaal geleë om die verduistering vanaf te volg.

Toe is die Paarl Hollands. Willie het my teleskoop bedek met die filtermateriaal en ons was reg vir first contact terwyl hy sy teleskoop opgestel het. My teleskoop het vir die eerste maal op 22 Sept 2006 direk na die son gekyk. Magic!


Carol stel haar teleskoop in op die son sodat die besoekers mooi kan kyk.

Die mense het nuuskierig begin naderstaan veral nadat Willie sy (wat soos ´n striker missiel lyk) teleskoop opgestel het. Anton het ook met sy teleskoop gearriveer en toe is ons reg vir die dag. Ons moes omtrent perform. Hybrè het heerlike glase koue water en koeldrank aangedra om ons te lawe. Willie het almal vermaak met oulike handskadutruuks.


Tydens makimum eklips raak mens se skaduwee snaaks - skerp aan die een kant en "harerig" aan die anderkant.
´n Plastiek krat kan ingespan word om veelvuldige "pinhole" kameras te vorm wat "halfmaan" sonnetjies projekteer.


´n Aksiefoto van die krat-skaduwee-stuuk.
Let op die bord wat gratis "eclipse viewing" adverteer.

So effens voor 4nm het Willie begin oppak - daai wit kar met die splinternuwe bande moes nog gepak word vir vakansie. Rieks was nog kalm en glimlaggend (dankie Rieks!) en ek was teen daardie tyd braaf genoeg om die fort te beman tot die bittereinde. Die maan het stilletjies weer verdwyn.

Een dogtertjie wat van begin tot einde dopgehou het, het gesê sy wil eendag ´n sterrekundige word.......

Voorwaar ´n blitsig beplande OOGkasie om te onthou.


Die entosiastiese dogtertjie waarvan Carol gepraat het, was beloon
met hierdie foto van haar in die Paarl Pos van 5 Oktober 2006.
Tog jammer dat Paarl Pos nie vir Carol vir die foto en OOG erken het nie.


Die geprojekteerde beeld van ´n 20x50 verkyker laat mens die verloop van verduistering maklik volg.


By tye was die straathoek voor Paarl Toerisme ´n miernes van bedrywigheid met oud en jonk wat kom kyk het.



Ons het na die beste van ons vermoë alles breedvoerig probeer verduidelik.



Ander OOGlede se bydraes


Philip van Heerden van Sandbaai skryf: Ek het met my inderek geprojekteerde beelde probeer fotografeer,
maar met minder sukses aangesien die latere beelde oorbelig is en van swak gehalte is.


Philip se fotos van die bome se skaduwees wys die "halfmaan" sonnetjies mooi.


Josef Kruger, die persoon wie Philip se kamera-montering vir Spinnekop gemaak het, het hierdie reeks fotos geneem.


Johan Klopper was op Bettiesbaai tydens die verduistering. Hy skryf:
Gelukkig kon ons nog die filters en spesiale bril van destyds opspoor en
gebruik om die meegaande foto te neem. As jy mooi kyk, kan jy selfs die
ongelyke rand van die maan sien.


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou