ATKV Sutherland bustoer - 2006

OOG-lede was spesiaal uitgenooi om die jaarlikse bustoer na Sutherland, aangebied deur die Wellington-tak van die ATKV, mee te maak. In die Augustus 2006 nuusbrief beskryf Serena die toer as volg:

Oor die naweek van 29 en 30 Julie was veertien OOG-lede bevoorreg om saam met Willie Koorts, Daan Spamer en lede van die ATKV van Wellington ´n toer na Sutherland te onderneem. Dit was ´n hoogs gesellige klop wat, gewapen met knibbelpakkies en kameras, teruggesit het in die luukse bus en na die staaltjies en stories geluister het waarmee Willie ons op die lang pad vermaak het.


Deel van die toergroep in die kroeg van die hitoriese Lord Milner Hotel op Matjiesfontein.

By Matjiesfontein het ons afgedraai na Sutherland en kennis gemaak met die verleidelike natuurskoon van die Roggeveld. Ons het met nuwe oë na die rotsformasies van die Karoo-landskap gekyk en stadig begin besef dat die naweek nie net oor sterre en teleskope sou gaan nie, maar dat dit ook een van geskiedenis, legendes en kultuur sou wees.


Dié "Koos" uit die museum op Matjiesfontein gee OOG ´n heel ander betekenis!

Die hoogtepunt van die naweek sou ongetwyfeld ´n besoek aan die SAAO fasiliteite op ´n koppie 18 km buite die dorp wees. Baie sou afhang van die weer en teen laat agtermiddag het vlieswolkies in die hemel rondgeskarrel - almal het asem opgehou. Maar kyk, die ATKV weet hoe om dinge te reel. Na aandete het ons uitgekom om ´n skouspelagtige sterrehemel te vind. Toegewikkel in jasse, serpe en musse het ons reggemaak om die aand tussen die sterre te baljaar.

Daar is twee GOTO teleskope by die Besoekers-sentrum - ´n 14" Celestron en ´n 16" Meade. Onder Willie se professionele leiding, bygestaan deur Rudie, was ons in staat om menige van die suidelike hemel se pragstukke te sien, waaronder die dubbele-sterre van Alpha Centauri, die bolvormige sterrehoop Omega Centauri, die Suiderkruis se Kolesak en Juweelkissie, Antares en die bolvormige sterrehoop M4 en die asemrowende Eta Carinae newel. Daar is na Jupiter en sy mane asook die kraters op die Maan gekyk en net toe ons gedink het dis tyd om huis-toe te gaan, verskyn die Klein Magellaanse Wolk en 47 Tucanae!

Om die aand af te sluit is Willie se DVD, wat die basiese beginsels van sterrekunde verduidelik, asook ´n oorsig oor die bou en status van SALT gee, aan ons gewys. Dit alles natuurlik in voorbereiding vir ons besoek die volgende dag.


Rudie in die voorgrond met Serena, Carol en Daphne agter en Lumé by hulle.

Vir die meer avontuurlustige toerlede was die aand nog jonk na ons terugkeer van die Sterrewag en terwyl die meeste van ons snoesig onder donskomberse geslaap het, was Carol Botha en Rudie Loots besig om na die Suidelike delta Aquarid sterrereen te soek. Gewapen met die Sky Guide het hulle nie minder as 20 binne die bestek van ´n uur gesien!


´n Groepfoto van die OOG-lede op die toer poseer voor SALT.

Sondagoggend, na ´n reuse ontbyt, het ons die kronkelpaadjie na die tuiste van SALT gevat. Teen dié tyd is sy kenmerkende koepel en toring bekend maar niks berei mens voor vir wat binne gevind word nie. Die teleskoop met sy 91 heksagonale spieëls beweeg seepglad op lugkussings soos ´n skeertuig en dit neem minder as vyf minute om die 90-ton struktuur in posisie te kry. Elke segment is 1 meter in deursnit, 50 mm dik en weeg ongeveer 100 kilogram. Die volger-apparaat is 13 meter bokant die spieël gemonteer en kan as die hart van die teleskoop beskou word. Dit is verantwoordelik vir die versameling van al die optiese inligting vanaf die hoofspieël deur ´n stelsel van vier spieëls wat die sferiese afwykings korrigeer en die posisie van die voorwerp vasstel en dit dan na die rekenaar oordra. (Vir meer inligting sien OOG nuusbrief van Oktober 2005.)


´n Groepfoto van die toergroep teen die agtergrond van die Sutherland Sterrewag.

Na ´n onvergeetlike oggend was ons toergroep traag om afskeid te neem van hierdie interessante Karoo-dorpie met sy vriendelike mense. Nuwe vriende is gemaak en nie minder as tien lede is vir OOG gewerf. Groot was ons verbasing toe ons ´n dag na ons terugkeer foto´s op TV en in die koerant van Sutherland sien wat wit onder ´n halfmeter sneeu lê. Paaie was vir dae onbegaanbaar - seker ook maar goed dat ons nie te lank op die koppie getalm het nie!


As gevolg van groot belangstelling, was daar ´n tweede toer oor die naweek van 16-17 September 2006.
Groot was ons verbasing toe die sterrewag-koppie in ´n sneeukombers bedek was tydens ons dagbesoek.


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou