Sterrekunde Werkswinkel
Skurweberg, 21-23 Mei 2004


Die onmiskenbare uitdraaibord na Witjan en Elsa se plaas Houdenbek waar die kursus aangebied was.
(Foto: Hansie Schreuder)

´n Behoefte aan praktiese leiding vir die gebruik van teleskope, waarna om te kyk, ens. was geopper deur OOG-lede sowel as ´n inbeller na Sterre en Planete een aand. Dit het my aangespoor om ´n naweekprogram en ´n werkboek saam te stel, gemik op praktiese sterrekunde.

Die teikengroep het mense ingesluit wat alreeds teleskope besit, maar leiding verlang om dit behoorlik op te stel en effektief te gebruik. Die werkswinkel was nie net beperk tot mense met teleskope nie, aangesien daar ook aan blote-oog en verkyker waarnemings aandag gegee was. Ook mense wat nog gewonder het oor watter tipe teleskoop om aan te skaf, kon eerstehandse kennis hieroor opdoen.

Ander aspekte wat gedek is, was onder andere sterrekundige termologie, die lees en gebruik van sterkaarte, die vind van interessante voorwerpe in die ruimte en hoe om ´n teleskoop daarop te rig, astro-fotografie, ens.

Die mees ideale plek vir sterrekunde bly maar die Karoo en daar is gesoek na ´n geskikte plek in die nabyheid van Sutherland sodat ´n besoek aan die Sterrewag, veral SALT (toe nog in aanbou) ingesluit kon word. Die Skurweberg gasteplaas was geïdentifiseer met genoegsame slaapplek en selfs ´n "lesingsaal". Hulle kon ook al die etes voorsien wat uit die boeke was, veral hulle beroemde Karoo lam. Vir gades en kinders wat nie vir die kursus ingeskryf het nie, bied Skurweberg heelwat om te doen sodat niemand ooit verveeld was nie.

Die naweek van 21-23 Mei 2004 was gekies vir ´n ideale maan-stand asook twee komete wat toe op hulle beste geplaas was vir sigbaarheid, selfs met die blote oog vanaf so ´n lekker donker plek.

Die weer bly mos maar altyd die een faktor waaroor ons nie beheer het nie, maar ons was baie gelukkig - die Vrydagaand was toestande perfek wat ons bittereinders tot 02h00 wakker gehou het. Laataand, Saterdagaand het die wolkies begin saampak, dalk ook maar goed sodat ons bietjie rus kon kry.

Die kursus was opgedeel in ´n klompie sessies met af-tye tussen-in, maar dit was nog steeds ´n vol program waarin ´n wye spektrum inligting oorgebring is. Ons het selfs een middag na die Son gekyk om tegnieke van veilige filtering te demonstreer.

Alhoewel dit nie op die agenda was nie, was ons die Saterdagaand deur ´n baie helder meteoor verras - dit was so helder dat dit die hele omgewing vir ´n paar oomblikke verlig het.


Die "klaskamer" tydens ´n breek.
(Foto: Rudie Loots)

Louis Fourie, besig om voor te berei vir die nag.
(Foto: Serena Ingamells)

Serena, by haar teleskoop.
(Foto: Johan Klopper)

Die naweek was op ´n hoë noot afgesluit met ´n besoek aan die Sterrewag waar gesien kon word hoe baie van apekte wat in die kursus bespreek was, in die praktyk toegepas word. Ook die nie-kursusgangers het hierdie uitstappie meegemaak en saam geniet. Om die 90 ton SALT teleskoop in lewende lywe te sien beweeg was vir baie die hoogtepunt tot ´n genotvolle naweek.

Kort na die werkswinkel het die Patons vir hulle ´n 8-duim teleskoop gekoop, identies aan die een wat Hansie saamgebring het.

Willie Koorts


Die majestueuse koepel van SALT domineer die
sterrewag koppie en verdwerg mens en motor.
(Foto: Wessel Pieters)

´n Groepfoto van almal wat die naweek bygewoon het. (Foto: Johan Klopper)

Nog fotos van die naweek


Selfs tydens ´n breek gaan die besprekings eenstryk voort
(Foto: Serena Ingamells)

Ek, by my 9-duim Split-ring Newtonian teleskoop
(Foto: Johan Klopper)

Elsa en haar span het gesorg dat ons nie honger ly nie. Hier nuttig ons ´n heerlike Brunch
(Foto: Wessel Pieters)

´n Groepfoto van die mense wat op die buurplaas by Oom Jan en Santa tuisgegaan het
(Foto: Wessel Pieters)

´n Deel van die groep tydens die sterrewag besoek buite die 40-duim teleskoop
(Foto: Wessel Pieters)

Die 40-duim koepel van binne
(Foto: Wessel Pieters)

© 2007 OOG. Alle regte voorbehou