Oorgang van Venus
8 Junie 2004

(Lees hier oor die Kollege op Wellington se verbintenis met die Oorgang van Venus.)

Toe my wekker om 6-uur op 8 Junie, 2004 afgaan en ek by die venster uitkyk, sous dit sommer lekker buite! Ek was tussen twee vure of ek nie dalk Touswrivier toe moet ry nie. Ek was die vorige Saterdag daar met die afskop van hulle Venus Fees en het geweet dat Morning Live lewendig daarvandaan sou uitsaai. Op die TV was dit agter duidelik dat die weer nie veel beter daar was nie.

Terwyl ek die verwikkelings op die TV volg, loer ek kort-kort uit en sien op ´n stadium die maan deur die wolke. Dit laat my besluit om klaar te maak en ry so teen 8-uur met ´n motor en sleepwa vol toerusting af na die Kollege gronde.


Getroue OOG-lede, Ina en Hansie Schreuder by sy 8-duim Dobsonian teleskoop met tuisgemaakte sonfilter

Prof Tucker (links) steek saam met my kleim af met ´n tydelike ysterpaal wat die posisie aandui van Newcomb se observasiepos in 1882. Heel tereg so, want dit was sy toedoen dat ons dié posisie kon vasstel. Die Seminarie sterrewag was destyds waar die tennisbane in die agtergrond vandag is.
Louis Fourie het intussen uit Worcester gebel om te hoor hoe die weer aan hierdie kant van die berg lyk - hy besluit om Wellington toe te kom. Ons kom amper gelykertyd by die Kollege aan. Op daardie stadium het die reën opgehou en begin daar gate in die wolke verskyn. Ons tree heel eerste die afmetings uit van Newcomb se 1882 observasiepos en plant ´n ysterpaal (om te hou by tradisie) en plaas bakstene wat die posisie van sy observasiepos aandui.

Terwyl Louis sy teleskoop in gereedheid kry, stel ek die ou 5-duim refraktor op. Teen ongeveer 9-uur kom die son vir die eerste keer uit. Ons kon nie vinnig genoeg die teleskope op die son gerig kry nie. Wat ´n ongelooflike ervaring om na 7 jaar se navorsing oor hierdie rare verskynsel, vir Venus onmiskenbaar, pikswart teen die son afgeëts te sien!

Die reën het ons ´n paar keer na sambrele en seile laat reik om ons en die teleskope droog te hou maar ons kon darem gereeld ´n gaatjie in die wolke kry om Venus se vordering te volg.

Ander OOG-lede wat die geleentheid kom meemaak het was Hansie en Ina Schreuder asook Serena en Louie Stander.


Prof Tucker het hierdie foto geneem van Venus
duidelik afgeëts naby aan die rant van die Son.

Daar was nogal heelwat mense (seker so ongeveer 50 altesaam) wat deur die loop van die dag kom kyk het, party nadat hulle op RSG gehoor het toe Anthia Warner gebel het om te hoor hoe dit met ons hitoriese waarnemings op Wellington gaan. Prof Tucker, die Amerikaner wat vir my Newcomb se verslag uit die Washington Argiewe bekom het, was ook daar nadat hy die eerste deel van die oorgang vanaf Touwsrivier waargeneem het. Dit was uit hierdie verslag van Newcomb waarmee ons die posisie van sy observasiepos binne meters kon bepaal, vanwaar ons gekyk het.

Terwyl ek die seldsaamheid van die oorgang aan ´n groepie studente van die Kollege verduidelik, bestudeer my seun, Jaco-Chris (in die skoolbaadjie) dit deur die teleskoop. Die krukke-montering het ek kort voor die tyd vinnig aanmekaargeslaan vir die geleentheid. Daar was op ´n stadium ´n vermoede dat hierdie 5-duim refraktor in 1882 op Touwsrivier gebruik was, maar dit kon nie bevestig word nie.

Histories was die dag vervolmaak deurdat Mev Mary Elizabeth Cummings (Beth) Kruger, kleinkind van Mary Elizabeth Cummings (wat die vorige Oorgang in 1882 waargeneem het vanuit die Seminarie sterrewag wat op die tennisbane in die agtergrond gestaan het), kom saamkyk het. Soos haar naamgenoot ouma, 122 jaar tevore, bewonder sy hier die verskynsel deur Louis se teleskoop.

Willie Koorts


© 2007 OOG. Alle regte voorbehou